As God My Vasvat

Soms is ek laf

simpel en halfgesout.

Ek het my Skepper se ingryp nodig

‘n ingryp om my uit te haal.

Waar ek vasgevang is in dinges en dinge

bid ek ‘n verlossing en losmaak.

Voor ek leer vra: “Vat my”

leer vra ek: “Vat myne”.

Vat my goeter, vat my goed

maak my goed.

U vasvat ruk my reg, ruk my raak

U vat vas, maar U hou ook vas.

U hou vas – aan my

U hou van – my.

(en dis ‘n heel ander sagte vasvat as wat mens sou dink na jy die titel gelees het)

 

 

 

Jou Plakker

Ons Boere is baie vining om polêre teenstrydighede te skep
Inderdaad is die doel van ‘n teenstrydigheid ‘n teenstryerigheid
Links teenoor regs
Liberaal teenoor konserwatief
Progresief teen… Regresief
Die wat laer trek en die wat voort trek

Almal noem my liberaal omdat ek
uithang en werk en veg saam swart Afrikane…
maar ek weier om as ‘n liberalis beplakker te word
Ek is konserwatief. Ek is radikaal in die sin dat ek staan vir
‘n terugkeer na ons wortels.
Wortels wat my anker in waar ek vandaankom en hoe
ek grootgemaak is.
Ek is konserwatief omdat ek glo in konserwatiewe waardes:
Christelike naasteliefde
Wat is ‘n Afrikaner sonder Christelike naasteliefde?
My oortuiging dat my medemens ten spyte van velkleur
Ten spyte van opvoeding of behuising, ten spyte van aksent
my broer is… is in lyn met Jesus se vertel van die Samaritaan
Hierdie is old school waardes.

Dis konserwatief vir ‘n Afrikaner om nie ‘n selfsugtige poephol te wees nie
maar om jou speelgoed te deel met ander
Dis konserwatief of nie geldgierig te wees en mammon na te streef nie
Dis konserwatief om nie ‘n materialis te wees nie
Dis konserwatief om nie af te show met die blinkste kar wat jy op skuld koop nie
So baie van ons dink ons is boere, maar ons is eintlik klein Trumps in kakie…

Ek laat my nie mislei en verlei met liberale sienings
gegrond in humanistiese individualisme nie
‘n Goeie boer kan nooit een wees wat vir gemak en self leef, bo sy pligte tot die samelewing en gemeenskap nie
‘n Konserwatiewe Afrikaner is braaf en nie bang nie
Ek laat my nie mislei en verlei deur byderwetse tendense om myself as slagoffer te bestempel nie
Ek kla nie oor my elke dag en uitdagings nie
Ek pak die bul by die horings

Ek glo in konserwatiewe waardes soos dankbaarheid, ek kyk na wat ek het
Ek fokus nie op die behoud van my regte nie, maar die deel van my voorregte
Afrikaner gasvryheid- vir almal.
Vir my is ‘n goeie Afrikaner een wat glo in waardes,
waardes wat ons nie altyd uitgeleef het nie
maar waardes wat ons opgehou het en aan ons kinders probeer leer het.
Ek glo leë blikke maak die meeste geraas, ek glo in werk voor plesier
Ek glo in een drag maak mag en ek glo in aanhouer wen
Nie konserwatief nie? Se gat

So los my plakker uit
As jy wil plakkers uitdeel, beplak jouself
En vat sommer die liberale plakker
Moenie my probeer plak
omdat jy te slapgat en halfhartig is
om verby jou gemak en klein homogene groepie te kyk nie
As ons van Europa kon trek Kaapstad toe en van Kaapstad af Transvaal toe
Kan ons waaragtig nou in die Nuwe Suid Afrika intrek
En ophou bang en grumpy wees omdat ons nie meer baas genoem word nie.
Die wortels van die Afrikaner is wortels van werk,
nie van baas speel en baasspelerig wees nie

Ek is seker nie reg of regs nie, maar ek’s ook nie links of verkeerd nie.
Ek’s geanker en vooruitstrewend. Eks inklusief en lief.

Daar’s vir jou ’n plakker.