Hopelik

Hoekom sê ons “die enigste manier om hoop te kry is deur dit te gee”?

Hoop is nie ’n rasionele beslissing of voorspelling gebasseer op sigbare data nie. Inteendeel, hoop is ’n positiewe verwagting ten spyte van dit wat aangaan.
Daarom is dit absurd om te stel dat jy nie hoop het nie weens ’n lang lys neerdrukkende of vreesaanjaende faktore. Hoe donkerder die vertrek, hoe helder die kers. 
Hoop is nie ’n wens of voorspelling nie; hoop is ’n intervensie, hoop is ’n ingryping. 
Ons bring hoop deur dit te gee.
As Christen leier kan ons in weerloosheid en swakheid belei dat ons sukkel met hoop, maar dis ’n gebroke belydenis wat smeek om hulp en dis ’n verklaring dat ons klein is in ons geloof.
Hoop glo nie in die dinge wat ons sien nie, maar in God. Om hopeloos te wees is nie om pessimisties of realisties of optimisties te wees oor ons omgewing nie, maar om opgewonde te wees oor God en ons verwagting dat God, my kers kan aansteek en aanhou. Hoop voorspel nie ’n wereldse ligvertoning nie, maar hoop sien tekens en glinsteringe wat ons aan God toeskryf. 
Net soos dit ’n voorreg en plig is as geestelike leiers om hoop uit te dra, so is dit ook ’n gevaar om hopeloosheid te versprei en God se Gees te besoedel deur vlammetjies dood te blaas met frustrasies van magteloosheid.
Die sleutel tot hoop is ’n diep verstaan van ons beperkte invloed en ’n diep verstaan van God se oorvloed; nie ’n oorvloed geld en gemak nie, maar ’n oorvloedige liefde in die middel van seer en pyn.
Elkeen van ons, doen elke dag outomaties een van twee dinge: ons versprei hoop of ons versmoor hoop. Hierdie besef dryf ons na ons knieë, letterlik. Hierdie besef dwing ons om ons oë styf toe te maak sodat ons kan leer sien wat HY sien, hoe Hy sy koninkryk laat deurbreek. God breek deur in hoe ons kyk en hoe ons praat.