Suigelinge aan Mammon se Tiet

As jy wil weet wie koning van jou kerk is; steel geld. 

‘n Golf van accountability, transparency, stewardship, responsibility, repentance, justice en al wat ‘n rein konsep is sal jou oorspoel! Solank dit gaan oor die kerk se geld. 

Steel by God die hulpbronne wat Hy jou gee en mors dit op ‘n R1m kar, vakansiehuise, oorsese reise, wyn en mooi restaurant etes; daar sal geen noodkreet en bohaai wees, van niemand nie.

Steel iemand se goeie naam deur skinderstories; geen heilige uitroep van nêrens nie.

Steel die vertroue en eenheid binne die kerk deur ‘n broer se motiewe sonder rede te betwyfel, of deur agterdog te saai; niemand sal jou tot orde roep nie. 

Steel God se rus deur nooit te rus nie; niemand sal iets sê nie.

As kerkamptenaar, kom honderd keer laat en mors die kerk se tyd met bogpraatjies en stryery; als gaan okey wees, ons judge nie.

Steel iemand se waardigheid deur ‘n rassistiese opmerking; no biggie.

Steel iemand se potensiaal deur seksistiese grappe of miskyk; wie gaan kla?

Steel respek en veiligheid deur woede en harde woorde; wie sal kla oor reguit praat?

Steel God se eer deur op jou eie krag en slimstories staat te maak; niemand sal dit eers raaksien nie. 

Maar, steel geld, net ‘n paar duisend rand en die lou-warm weermag raak aant kook met ‘n heilige ingryping! 

Tog, agterdog. 

As ons net hierdie groot woorde en hoë standaarde uitbasuin met die wegraak van geld, dan kan ons ook maar in die beskuldigde bank gaan staan, want ons heiligheid is skynheiligheid.

Ek praat van kerk: liggaam, geestelik, dissipels, evangelies, wys, menslik, deurdrenk.

Ek praat nie van corporates wat per definisie werk vir en buig voor Mammon se speelgoed nie- vir hulle is die bottom line die hoogste waarde. 

By ‘n kerk is daar egter baie dinge wat ‘n groter, hartseerder ding kan wees as dooie geld wat wegraak. 

Hoe reageer ons op R5000 verlore, hoe reageer ons op een lidmaat wat wegloop, een potensiele lid wat afgeskrik word? 

Wat is ons prys op ‘n mens? 

Wat is ons prys?

Ain’t we cheap?