Tag Archives: afrikaans

Afrikaner Leerwerk

Ek’t ‘n stelletjie gereedskap gekoop om met leerwerk as stokperdjie te begin. Vir diegene wat van dag tot dag met mense werk, sal dit nie verrassend wees om te hoor ek wil iets met my hande doen en ‘n eindproduk wat tasbaar is kan vashou aan die einde van die dag nie. Maar leerwerk is ook ‘n lekker metafoor. Die letters l, e, e en r langs mekaar geskryf is ‘n goeie voorbeeld van hoe dieselfde ding verskillende betekenisse kan hê, afhangend van konteks. In ons land word ‘n groot bohaai gemaak oor dekolonialisasie en ek hoef niemand te herinner dat, ten spyte van ons stryd met die Kakies, ons as Afrikaners die kolonialiste is in die storie van Suid Afrika nie. Nietemin, is ons verhouding met die souties gereeld vir my kosbare stof tot nadenke. Party Suid-Afrikaners dink dit is teenstrydig met swart bewussyn om goed te leer Engels praat. Ons Boere weet al te goed dat taal ‘n stuk gereedskap is en dat taal in mag vertaal. As jy nie ‘n domkop wil wees nie, moet jy leer. Die eerste keer toe ek ‘n Engelsman in ‘n groepie hoor sê iemand is ‘condescending’, toe kyk ek vir water en kondensasie! Net so lyk dit my party van ons, wanneer daar oor restitusie gepraat word, verwar die woorde ‘constitution’ met ‘constipation’ en alhoewel die twee soms verband hou in ons ervaringsvelde, beteken hulle iets heel verskillend.

Ek werk deesdae met leer en ek leer om te leer. My eerste iPhone sakkie lyk maar gehawend, maar ek is seker die derde of vierde pogings sal mooi genoeg wees om as geskenkies uit te deel.Ek moet leer reguit sny met ‘n skerp messie, sonder om oor die lyne te gaan. Soms sny ek waar ek nie bedoel het om te sny nie en soms maak ek ‘n groot gekrappige gemors waar ‘n kliniese lyntjie gesny of getrek moes word. Ek leer stik met die hand. Soms stik ek aan nuwe idees en woorde, veral gespreek van onder ‘n rooi kappie op ‘n kwaadkop. Met my nuwe stokperdjie leer ek om mooi goedjies te maak en om goedjies mooi te maak. Die byvoordeel is dat ek dinge skep wat ander dinge beskerm. En dit is dalk my voorbehoud in Suid Afrika in 2016; nie om weg te hardloop of terug te trek nie, maar om iets te skep deur kreatiewe toepassing sodat my pêrels nie êrens lê waar iets of iemand daarop kan trap nie. Met ‘n leeromhulseltjie kan ek steeds reis en op avonture gaan, want daar’s ‘n lagie dikvelligheid rondom dit wat vir my kosbaar is.

In my groeiproses en gespartel met Engels, moes ek uitpluis wat ‘homogenous’ en ‘impasse’ beteken en in my groeiproses en spartel met my land moes ek uitpluis dat ons deur die ‘impasse’ kan kom deur uit ons ‘homogenous’ groepies te beweeg in politiek, ekonomie, kerk en sosiaal. As mens leer natmaak, buig dit makliker en ek besef hoe ryk metafoor water is: water wat stort en water wat doop; waarin moet ek my onderdompel of deurdrenk om toe te laat dat ek ook gebuig en gevorm kan word, sonder om my krag te verloor? Ons ken van genadereën en ek besef ek moet toelaat of ooplaat, sodat ek deurdrenk kan word met ‘n naasteliefde wat ‘n baie wyer naaste insluit en innooi. 

eerste probeerslag
eerste probeerslag

Afrikaans en God

Hier is ‘n skrywe van Stephan Joubert aan E-kerk lesers: Ek het ‘n paar van sy woorde in rooi gemerk en my refleksie volg onder aan.

Van familietaal gepraat, dink net hoe sal jou huweliksmaat voel as jy heeltyd in toekomstaal of hipotetiese taal oor hom of haar praat? As jy gedurig vir almal dinge sou sê soos jy staan op ’n klomp beloftes wat hy of sy vir jou gegee het, sal dit vreemd op hulle oor val. Net so as jy om elke hoek en draai vertel jou huweliksmaat het pas weer drie of vier versoeke van jou laat waar word. Sal ander mense regtig dink jy is ernstig oor jou verhouding met jou huweliksmaat as jy net gedurig deurbrake en antwoorde van hom of haar verwag?

Kry asseblief jou geloofstaal reg. Hoe? Wel, besef opnuut jy is regtig deel van God se nuwe familie omdat jy met jou hele lewe in Jesus Christus glo (1 Johannes 3:1–2). Begryp dat God regtig jou Hemelse Vader is wat vir ewig by jou en al sy ander kinders is. Sy teenwoordigheid, sy liefde, sy nabyheid — dis al wat regtig saakmaak! As jy dit verstaan, sal jou taal God nie langer verskraal tot ’n blote verskaffer van bepaalde religieuse dienste nie. Dan sal jy nie meer op stereotiepe maniere oor Hom praat nie, maar vars, opreg en ook met groot respek! Ware geloofstaal maak jou diep bewus van God se Vaderhart. Dit maak jou nederig.

Laai aanhoudend nuwe familietaal op jou lippe, daardie soort wat vertel dat jy God liefhet met jou hele hart, siel en verstand. Praat groot oor ons groot God. Vertel op kreatiewe maniere van al sy groot dade. Laat jou woorde wys dat sy Gees besig is om jou van heerlikheid tot heerlikheid te verander (2 Korintiërs 3:18). Onthou asseblief die regte geloofstaal is verhoudingstaal. Dis die taal van Goddelike liefde, nabyheid, versorging en omgee. Dis die taal van verwondering, dankbaarheid en tevredenheid. Oefen dit in. Praat gedurig met God as een van sy geliefde kinders. Dan sal jou woorde weer magneties raak in die hemel en op aarde.”

Soos altyd is dit makliker om te verduidelik wat fout is as om die regte ding te doen. Ek doen dit gereeld: terwyl ek in die kar ry en kla oor korrupsie,
sien ek dat ek 20km/uur oor die spoedgrens ry. Ek skinder van die mense wat skinder en ek raak kwaad vir mense wat nie die ‘vrug van die Gees’ uitleef nie!

Stephan doen goed in die artikel hieronder, maar ’n paar van sy keuses het my laat glimlag. Ek besef hy is slim en geleerd, maar ek wonder sommer, aan die hand van die punt wat hy maak oor ’n paar van sy sêgoed.

Dalk is hy net poëties, maar hoe sal dit klink as ek met my vrou praat en bedank vir haar ‘teenwordigheid’? ‘Dankie dat jy hier is’, of selfs ‘om by jou te wees’ klink vir my meer natuurlik as die ‘teenwoordigheid’ wat dalk ’n NG weergawe van die charismate se ‘salwing’ is!

Selfs ‘Hemelse’ Vader is in my kop ook maar cliche. Soos daai ‘e’ aan die einde van ‘Onse’ Vader. God is tricky en moeilik genoeg, om nou nog ’n abstraksie soos hemel in te gooi help my nie om ‘aardse familietaal’ te praat nie.

Hoeveel keer het iemand al met hul kinders of man gepraat van hul ‘nabyheid’. Dis nie ’n groot woord nie, maar in 38 jaar het ek nog nooit iemand hoor praat met iemand in die huis oor hul nabyheid nie.

Dan is daar ‘verskraal’! Eks seker baie mense sou bly wees as woorde mekaar kon verskraal sodat daai jeans beter sou pas, maar God verskraal? Dalk is dit net mooi Afrikaans, maar is die idee van die artikel nie om eenvoudige woorde te gebruik soos mense elke dag praat nie?

Mense hou tog so van die woord en idee van hart as metafoor; ek is mal oor my regte pa en ek het hom nog nooit bedank vir sy ‘vaderhart’ nie. Vars woorde is moeilik as mens sit en tik om iets te publiseer.

So is die ‘laai die taal op jou lippe’ ook pragtige Afrikaans, maar weereens iets wat jy in min Suid Afrikaanse gesinne gaan hoor. In my huis praat ek, ek laai nie taal op my lippe nie.

Ek wil graag verander. Maar by watse ‘heerlikheid’ ek begin en by watse ‘heerlikheid’ ek moet opeindig weet ek nie. By die huis is ’n skaaptjoppie ’n heerlikheid asook ander dinge waaroor ek nie hier mag skryf nie, maar die ‘heerlikheid tot heerlikheid’ is dalk bybelwoorde wat ’n Vrystaatse Eugene Peterson nodig het om bietjie deur te trap.

Laastens, ek probeer normaal met God praat, maar ek sukkel om lekker en real te voel as ek Hom vra om my woorde ‘magneties’ te maak op ‘hemel en op aarde’.

Die artikel van Stephan maak twee briljante punte: eerstens, dat ons met God moet praat soos ons by die huis praat (aka familietaal) en tweedens, sien ons hoe moeilik dit is om dit reg te kry in ’n wêreld waar lesers taaljuweeltjies en slimmighede verwag en prys.